Die Boervrou
Hierdie is ‘n e-handdruk want hoe moet jy nou my seep gebruik as jy nie eers weet wie ek is nie? Ons is mos nie so grootgemaak nie! Dus, laat ek myself aan jou voorstel.
My naam is Susan Brits. Ek het op ‘n plaas in die Wes-Transvaal grootgeword en as ek myself die boervrou noem, bedoel ek nie ek is die boer SE vrou of deel van die Afrikaner-boerekultuur nie – ek bedoel wat ek sê: Ek is ‘n boervrou maw n vrou wat boer. Nou dink jy seker: “O hel, ‘n dik antie met ‘n khakibroek en tekkies!” Wel, jys verkeerd ☺
Ek is toevallig ook trots Afrikaans en deel van die boerevolk, my man is toevallig wel ‘n boer en ek besit toevallig ‘n paar tekkies, maar ek boer want dis in my bloed. Ek is ook die boer SE vrou en geeneen wat die titel dra kan wegkom sonder om te kan konfyt kook, vrugte te kan inlê en beskuit te kan bak nie. Vrouens moet mos alles kan doen (ek rol my oë).
Ons plaas is so 40 km buite Klerksdorp en hier plant ek onder andere aarbeie en ek kook boerseep (en Castile-seep – later meer hieroor).
As jy Afrikaans is, is die kans goed dat jou oumagrootjie ook seep gekook het. Ek wou nie hê dat hierdie ou tradisie moes uitsterf nie en het toe begin oplees oor boerseep en so het die seep-gogga my gebyt. Ek moet erken, goggas waarvoor geen gif gaan help nie, byt my nogal gereeld: die hekel-gogga, die fietsry-gogga, die oefen-gogga, die aarbeiplant-gogga… Ek reken ek verdien ‘n eredoktorsgraad in entimologie!
Ek dra al hierdie boervrou-kennis aan my twee dogters oor want dis mos hoe ons keer dat vaardighede en tradisies verlore gaan – met so ‘n bietjie Google-hulp, sal hulle kan aangaan waar ek ophou.
Daarshy, nou weet jy darem so min of meer waar jou seep vandaan kom en as ek jou weer raakloop gaan jy nie dink: “Wie is hierdie Susan-vrou?”nie. Ek sien uit na ons volgende geselsies.
Vars van die plaas af
Subscribe to our newsletter
Be the first to know about new and exclusive offers from Die Boervrou.